• Home
  • Sport
  • Twickenham g’n lekker weiplek vir die Bokke

Twickenham g’n lekker weiplek vir die Bokke

Rugby
Tielman Van Lill
Met ‘n wenpersentasie van slegs 44.44 persent vir die Springbokke in die Twickenham-stadion in Engeland teen die Engelse Rose, is dié venue nie die beste uithangplek vir Suid-Afrika nie.

Suid-Afrika het wel in 1998 die All Blacks se wêreldrekord van 17 agtereenvolgende wentoetse geëwenaar, maar Twickenham en nat weer het ‘n stokkie voor die Bokke se drome van ‘n nuwe wêreldrekord gesteek.

In November 1998 het Nick Mallet se Bokke by Twickenham opgedaag in die strewe om hul rekord 18de toets op ‘n streep te wen. Maar dié eer was die besoekers nie beskore nie en hulle moes die aftog met ‘n loesing van 13-7 blaas.



Ses op ‘n ry

Van 1998 tot 2006 het die Springbokke ses toetse agtereenvolgens teen Engeland verloor. In 2006 het die Bokke die eerste toets verloor en die tweede een gewen om die reeks gelyk te maak.

Ná Suid-Afrika se sege in 2006, was hulle die Rose se baas op Twickenham met oorwinnings in 2008, 2010, 2012 en 2014. En wie sal ooit die loesing in 2008 van 42-6 vergeet waarmee die Bokke die Rose op Twickenham verniel het?

Van 2016, 2018 en 2021 moes die Springbokke opnuut by Twickenham sien hoe die Ingilse se telling ‘n kortkop voor hulle bly. Genadiglik het Suid-Afrika die laaste toets in 2022 teen die gasheer gewen.



‘n Hartseer dag

Die grootste telling teen die Bokke is ‘n vernederende 53-3 in November 2002, op ‘n droewige dag toe die slot Jannes Labuschagne ná 23 minute ‘n rooi kaart gekry het.

In 18 toetse by Twickenham het Engeland 396 punte teenoor 364 deur Suid-Afrika aangeteken. Dit is ‘n gemiddelde sege met 22-20 vir die Rose. Hopelik is dit nie komende Saterdag se uitslag ten gunste van die Ingilse nie.



So het die laaste 18 Twickenham-toetse vir die SA span verloop:

1992: Verloor 33-18.

1995: Wen 24-14.

1997: Wen 29-11.

1998: Verloor 13-7.

2000: Verloor 25-17.

2001: Verloor 29-9.

2002: Verloor 53-3.

2004: Verloor 32-16.

2006: Verloor 23-21.

2006: Wen 25-14.

2008: Wen 42-6.

2010: Wen 21-11.

2012: Wen 16-15.

2014: Wen 31-28.

2016: Verloor 37-21.

2018: Verloor 12-11.

2021: Verloor 27-26.

2022: Wen 27-13.



Wilco terug in voorry; Manie dra 10-trui

Die vaskopstut Wilco Louw sal op Twickenham in sy eerste toets sedert Augustus 2021 speel wanneer hy die Springbokke se skrum teen Engeland anker.

Dié kragtige 30-jarige voorryman is een van 12 veranderings aan die span wat Sondagaand in die opdrafspan vir die oorwinning teen Skotland was.

Net die slot Eben Etzebeth en die voorrymanne Ox Nche en Bongi Mbonambi het hul plekke in die begin-vyftiental behou.

Rassie Erasmus, die Bok-hoofafrigter, het besluit om Manie Libbok op losskakel te kies, terwyl Grant Williams by Jaden Hendrikse agter die pak oorvat.

“Daar is net ses dae tussen twee taai toetse en ons moes slim te werk gaan met ons spankeuse.

“Natuurlik het dit ’n impak wanneer jy 12 veranderings maak, maar ons roteer al die hele seisoen ons groep,” het Erasmus gesê.

In teenstelling met die 23-tal teen Skotland toe daar net een agterspeler op die bank was, het Erasmus-hulle dié week op drie agterspelers besluit – Cobus Reinach, Handré Pollard en Lukhanyo Am.

Siya Kolisi keer terug om Suid-Afrika aan te voer en neem by die kapteinskap by Etzebeth oor.

• Springbokke: Aphelele Fassi, Cheslin Kolbe, Jesse Kriel, Damian de Allende, Kurt-Lee Arendse, Manie Libbok, Grant Williams, Jasper Wiese, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (k), RG Snyman, Eben Etzebeth, Wilco Louw, Bongi Mbonambi, Ox Nche. Reserwes: Malcolm Marx, Gerhard Steenekamp, Vincent Koch, Elrigh Louw, Kwagga Smith, Cobus Reinach, Handré Pollard, Lukhanyo Am.

[email protected]

Comments

Namibian Sun 2024-11-23

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!