Nuwe begin by Usakos-stadion

Infrastruktuur
Minstens 30 werkgeleenthede is reeds geskep deur die ministerie van sport se plaaslike belegging.
Precious Nghitaunapo
Ná jare se verwaarlosing ondergaan die Usakos-stadion, ’n simbool van trots in die gemeenskap, uiteindelik broodnodige opknappingswerk.

Weens finansiële beperkings en ’n gebrek aan instandhouding het die stadion vervalle geraak. Met hernude pogings en steun uit die gemeenskap is die stadion egter nou op die pad na herlewing.

Die ministerie van jeug, sport en nasionale diens het N$2 miljoen gedurende die finansiële jaar 2022-’23 vir die opgradering van die Usakos Jeugsportstadion (Erf 260) bewillig.

Die stadion het vroeër jare as ’n spilpunt vir sportbyeenkomste, kulturele vieringe en gemeenskapsbyeenkomste gedien. Die vervalle toestand daarvan is vir vele ’n rede tot kommer, met verbrokkelende infrastruktuur en veiligheidsgevare wat aansienlike uitdagings bied.

Mohalle Naruseb, mede-eienaar van die Usakos-sokkerakademie, sê die opknappings is al lank uitstaande.

Naruseb, wat die plaaslike sokkerklub bestuur, sê hulle gebruik die stadion gereeld vir oefensessies, ten spyte van die verwaarloosde toestand daarvan.

Die span kan egter nie amptelike wedstryde by die stadion aanbied nie vanweë die standaard van die fasiliteite en speel dus gereeld hul amptelike wedstryde in Karibib.

Naruseb sê die belangstelling in sport in die dorp het aansienlik afgeneem en hy hoop dat die huidige opknappings die inwoners se moraal sal ophef.

“Hopelik sal die opgraderings belangstelling in Usakos aanwakker en dat die ondersteuning van die plaaslike span sal groei,” het hy gesê.

Die omvang van die opknappings sluit in die herstel van strukturele skade, die opgradering van sitplekke, die verbetering van onder meer toiletgeriewe en van algehele veiligheidsmaatreëls.

Fase een het reeds afgeskop en is daarop gerig om die ou heining en pale te vervang en die kleedkamers op te knap.

Die groter Erongostreek ondervind tans probleme met die standaard van sportvelde, veral in Walvisbaai en Swakopmund, waar die sportvelde vir nasionale ligawedstryde in meer as een sportkode gebruik word.

Die president van die Namibiese Sokkervereniging, Robert Shimooshili, sê egter enige opknappingswerk in die sportbedryf behoort gevier te word.

Hy sê sodra die opgraderingswerk voltooi is, sal die Usakos-stadion ook nasionale ligawedstryde kan aanbied.



WERKLOOSHEID EN GELEENTHEDE

Boonop sal die opknappingsprojek na verwagting ook ander positiewe rimpeleffekte buite die stadion se grense veroorsaak.

Die stadion sal die aanbieding van sportgeleenthede, kulturele vertonings en ander aktiwiteite kan lok, ekonomiese aktiwiteit aandryf en toerisme in die streek bevorder.

Verbeterde sportfasiliteite sal tot die ontwikkeling van plaaslike talent kan bydra.

Usakos se burgemeester, Irene Simeon-Kurtz, sê die projek het in die eerste week van vandeesmaand begin en die regering het die maatskappy Association for Unemployed Artisans in Namibia (AUAN) aangestel.

“Die projek het ten minste 30 tydelike werksgeleenthede geskep wat tot groot voordeel vir Usakos is en help met die hoë werkloosheid in die dorp,” sê sy.

[email protected]

Comments

Namibian Sun 2024-11-22

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!