• Home
  • Sport
  • DDP wys opnuut wat hulle nie weet nie

DDP wys opnuut wat hulle nie weet nie

MMA
Tielman Van Lill
Dricus "Stillknocks" du Plessis (DDP) het gisteroggend (Namibiese tyd) met 'n verstommende oorwinning sy eerste geveg ter verdediging van sy UFC middelgewigtitel gewen.

Die Suid-Afrikaner het in Perth, Australië, sy meesterskap oor Israel Adesanya beklemtoon.

Hy het in Januarie 2024 die UFC-middelgewigwêreldkampioen geword toe hy die vorige wêreldkampioen, Sean Strickland van die VSA, in Kanada met punte oor vyf rondes verslaan het.

In dié hoogs verwagte hoofgeveg het Adesanya twee van die eerste drie rondtes op een telkaart geneem. Maar volgens die ander twee beoordelaars was Du Plessis met 2-1 voor.

Dit was Adesanya, ook ‘n voormalige wêreldkampioen, se eerste geveg sedert hy in September 2023 sy titel aan Strickland afgestaan het.

Met 1 minuut 22 sekondes oor in die vierde ronde het Du Plessis die geveg beklink toe hy Adesanya met ‘n agternekwurggreep tot oorgawe gedwing het.

Voordat “Stillknocks” vir Adesanya afgetakel het, het die Suid-Afrikaner hom met drie reguit regterhoue na die kop geskud, wat hom duiselig in die agthoekige kryt laat ronsteier het. Du Plessis het toe vir Adesanya platgeduik, op sy rug gespring, omgedop en met die agternekwurggreep tot oorgawe gedwing. Dit was die eerste keer dat Adesanya op hierdie wyse geklop is.

Du Plessis het sy kritici se monde deeglik gesnoer omrede hulle gemeen het hy was gelukkig om teen Strickland te wen en dat Adesanya sy werklike toets sou wees.

Sy fiksheid was ook onder verdenking, maar hy het opnuut sy kritici verkeerd bewys.

“The Last Stylebender”, soos Adesanya bekendstaan, het ná die geveg Stillknocks se linkerarm omhoog gehou. Du Plessis sê hy het die wêreld se respek vir die Nigeries-gebore vegter en dat Adesanya ‘n legende is wat baie vir dié sportkode beteken het.

“Dit was ‘n eer om die kryt met ‘n legende te deel,” het die wêreldkampioen gesê.

Die Springbokslot Eben Etzebeth en -kaptein Siya Kolisi het saam met Du Plessis vanaf die kleedkamer tot by die kryt geloop. Hulle was ook agterna van die eerstes in die kryt om hom geluk te wens.

Du Plessis het met sy bekende sêding in Afrikaans losgetrek: “Lyk my hulle gaan nooit leer nie. Ons sal hulle maar elke keer herinner. Hulle weet nie wat ons weet nie!”

Daar is sprake dat die wêreldkampioen se volgende geveg moontlik in Suid-Afrika sal plaasvind. Du Plessis het tydens die post-geveg media-onderhoud gesê Robert Whittaker verdien loshande bo Strickland die voorreg om vir die wêreldtitel teen hom te baklei.

[email protected]

Comments

Namibian Sun 2024-11-25

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!