‘Vermy lood-ammunisie, -sinkers’

Werkgroep soek otterkarkasse vir navorsing
Die hoofoorsaak van loodvergiftiging onder wilde roof- en aasdiere blyk ammunisie en sinkers te wees wat lood bevat.
Elvira Hattingh
Die uitvoerende hoof van die Namibiese Kamer van die Omgewing (NCE), dr. Chris Brown, het in ’n brief ’n beroep op die toerismebedryf langs die Kavangorivier gedoen om op die uitkyk te wees vir otterkarkasse.

Dit om die vlakke van lood in die diere te toets.

Die inisiatief het ontstaan uit groeiende bewyse en navorsing op aasdiere (voëls en soogdiere) oraloor Suider-Afrika, Namibië en oor groot dele in die res van die wêreld, wat hoë vlakke van lood in hulle liggame het.

Dit het ernstige gevolge vir hulle voorplanting, gedrag en oorlewing.

Die kwessie van loodvergiftiging in aasdiere, veral onder aasvoëls, wek jare lank reeds kommer. Die hoofbron hieran blyk ammunisie te wees wat agterbly in die karkas of dele daarvan in die veld ná jagtogte of die beheer van roofdiere, verduidelik die Loodvergiftigingswerkgroep vir Wild (NWLPWG) op sy webwerf.

“Ons het die Loodvergiftigingswerkgroep in 2021 in Namibië gestig om die uitfasering van loodammunisie en -sinkers te fasiliteer.

“Die groep bestaan uit individue en organisasies, wat saam met die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme werk om loodvergiftiging die hoof te bied. Die doel is dat loodprodukte met alternatiewe vervang moet word, wat reeds wyd beskikbaar is,” het Brown in ’n brief verduidelik.



NAMIBIë SE OTTERS

“Onlangse navorsing onder krokodille in St. Lucia het bewys dat hulle uitsonderlike hoë vlakke van lood in hul liggame het. Die rede hiervoor is dat hulle sinkers insluk.

“Tot dusver is daar egter nog nie enige navorsing op otters gedoen nie. Ons wil dus ook na hul loodvlakke kyk, want beide otterspesies wat in Namibië voorkom, word deur die Wêreldbewaringsorganisasie (IUCN) as bykans bedreig gelys,” meen Brown.

“Die beste manier om oor die lang termyn vir loodvergiftiging te toets is om beendere te gebruik. Dit bied ’n blik op die dier se blootstelling oor sy leeftyd. Vir blootstelling oor die korter termyn, kan bloed, hare of vere ook gebruik word.

“As dit by otters kom, wil ons egter op hul beendere fokus,” het hy gesê.

“Hiervoor het ons skedels en lang bene van ledemate nodig. Die bene van beide ou en nuwe karkasse is welkom. As die skedel plus een lang been per dier saam bewaar kan word, sal dit goed wees – andersins enige iets anders wat beskikbaar is,” sê Brown.

Vir elke otterkarkas wat versamel word, moet ’n vorm ingevul word. Die monsters sal by die Universiteit van Namibië (Unam) se skool vir veeartsenydienste verwerk word, in samewerking met ’n gespesialiseerde universiteitslaboratorium in Japan.



SUIDER-AFRIKA

Die werkgroep hoop om eindelik werkbare opsies te identifiseer oor hoe Namibië die kwessie van loodvergiftiging kan takel en hoe daar moontlik op streekvlak met buurlande saamgewerk kan word.

“Die meeste aasvoëlsoorte dek groot gebiede as hulle vir kos soek. Individuele aasvoëls wat met GPS-toestelle in Namibië toegerus is, reis tussen vyf ander lande, naamlik Angola, Botswana, Zambië, Zimbabwe en Suid-Afrika. Aasvoëlbevolkings is dus nie ’n nasionale bate nie, maar ’n streekbate en dit maak loodvergiftiging ook ’n kwessie wat die groter streek sal moet aanpak,” word op die werkgroep se webwerf verduidelik.

Brown sê al hoe meer vervaardigers van ammunisie – ook in Suider-Afrika – bied nou ’n wye reeks loodvrye produkte.

Hy sê dit is dus veral jagters, boere, uitskietspanne om oortollige wild uit te dun, klubs wat roofdiere beheer asook ander spesialiste in die jagbedryf wat hiervan bewus gemaak moet word.

“Jag kom internasionaal al hoe meer onder druk. Die sektor moet dus progressief en professioneel optree en die hoogste omgewingstandaarde handhaaf.

Brown sê verskeie lande, waaronder Amerika, het om hierdie rede lood in ammunisie uitfaseer.

Vir verdere navrae het Brown belangstellendes na die loodwerkgroep se webwerf verwys (https://n-c-e.org/namibian-wildlife-lead-poisoning-working-group).

[email protected]

Comments

Namibian Sun 2024-12-26

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!