Stamselle bied hoop

Weinig inligting is beskikbaar wat spesifiek op hul kind gemik is.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Hy is liefdevol, vriendelik en gee die lekkerste drukkies. Alles te make met karre, of enige vervoermiddel, interesseer hom. Hy hou van selfone en wil altyd almal se sleutels ondersoek.

Die 13-jarige Raymond Coetzee van Windhoek het ’n baie skaars afwyking, waarna as 3p+11q verwys word, maar nie ’n amptelike naam het nie, en inligting daaroor is bitter min.

Die voorste gedeelte van haar seun se brein het nie heeltemal ontwikkel nie en daarmee saam is sy corpus callosum (die senuvesels wat die brein se linker- en regterhemisfeer verbind) te dun, verduidelik sy ma, Martie.

“Raymond se ontwikkeling is baie agter. Hy het eers op die ouderdom van drie begin kruip en op vier eers begin loop,” sê sy.

Hy is ook met klompvoetjies gebore en was skaars drie dae oud toe sy gesiggie blou geword het wanneer hy drink.

“Op 18 dae het hy sy eerste operasie ondergaan om sy oop maagkleppie te herstel. ’n Week later moes die operasie herhaal word nadat sy dunderm stukkend geskeur het en hy chirurgiese emfiseem oor sy hele lyfie ontwikkel het.”

Kort ná Raymond op sewe weke ontslaan is, het hul seuntjie self begin drink nadat die familie se pastoor vir hom gebid het.

“Ons het baie goeie behandeling in Johannesburg vir sy klompvoetjies gekry. Dit het behels dat hy drie maande lank gips en ses maande lank spesiale skoene moes dra.”

Die genetiese afwyking is eers op ses maande, ná verskeie bloedtoetse, by Raymond gediagnoseer.

“’n Gestremde kind is maar net soos enige ander kind. Jy doen elke dag wat nodig is en wat die beste vir jou kind gaan wees. Hulle het net meer aandag, terapie en geduld nodig.”

Die Coetzees erken hul seun se gestremdheid het baie druk op hul huwelik geplaas en Martie moes vir ’n tydperk voltyds ma wees.

“Ons dank die Here vir ’n baie goeie ndersteuningsnetwerk.”

Omdat Raymond se afwyking so skaars is, is inligting daaroor weinig.

“Dit was maar ’n geval van hoop op nuwe verwikkelinge. Algemene inligting is beskikbaar, maar niks wat spesifiek op ons kind van toepassing is nie,” sê Martie.

Op die ouderdom van nege maande is Raymond se voetjies met ’n klein operasie aan sy spiere herstel. Raymond het ook gereeld kroep of longontsteking gekry, maar van tweejarige ouderdom af het dit beter met hul seun se gesondheid gegaan.

“Tans is spraak en om homself verstaanbaar uit te druk ’n groot uitdaging. Ons sou ook graag wou sien dat hy leer lees en skryf.”

Omdat hy die eerste twee jaar van sy lewe dikwels in ’n hospitaal deurgebring het, het hy al sy mylpale laat behaal, vertel Martie.

Op vierjarige ouderdom is Raymond na ’n normale kleuterskool gestuur en kon sy ouers sien hy geniet die interaksie met onderwysers en ander kinders.

“Hy hou baie van sing al kan hy self net ’n woord of twee saam sing!”

Tans is Raymond in Kids Centre, ’n skool wat op kinders met gestremdhede en leerprobleme fokus.

“Hy sê woorde, maar kan nie ’n storie oordra nie. Om met hom te kommunikeer, is moeilik.”

Hul seun is baie vriendelik, liefdevol en gee die lekkerste drukkies, sê Martie.

“So nou en dan het hy mood swings, soos gestremde kinders geneig is om te kry. Hy wil almal se sleutels ondersoek en geniet alles rondom motors en ander vervoermiddels. Hy hou ook baie van sellfone,” sê sy.

Raymond se stamselterapie het gevolg nadat die Coetzees ’n praatjie deur dr. Alok Sharma van Indië in Windhoek bygewoon het, wat op dié behandeling fokus.

“Hoewel dr. Sharma se behandeling fantasties klink, is dit baie duur. Jy moet na Indië reis en in Amerikaanse dollar daarvoor betaal.”

Die Coetzees het egter op die spoor van die StemCure Clinic in Witrivier, Suid-Afrika, gekom waar dr. Hein van Wyk ook op stamselterapie fokus.

In Mei vanjaar het Raymond dr. Van Wyk gesien en dié terapie ontvang.

Martie verduidelik die terapie behels onder meer dat Raymond se bloed getrek word en plaatjies daaruit geoes word.

“Dié plaatjies word dan weer in sy liggaam teruggeplaas. Dit gebeur twee keer en duur sowat ’n uur op ’n slag.”

“Die hele proses gebeur oor ’n tydperk van drie weke en kan elke ses maande herhaal word,” verduidelik Martie.

Die Coetzees het gehoop die behandeling sal hul seun se breinfunksie verbeter en dat Raymond uiteindelik sal leer praat, lees, skryf en somme doen.

Enkele maande ná sy behandeling in Suid-Afrika bespeur sy ouers “klein verskille” in onder meer sy balans.

“Dit is al baie beter. Met sy onlangse oogtoetse kon hy 100 % vir kleurblindheid asook vir driedimensionaliteit (3D) getoets word, iets wat ’n jaar terug nie moontlik was nie,” sê Martie.

Dit beteken Raymond kan driedimensioneel waarneem en kleure onderskei. Nou brand die hoop dat hul seun wel in die toekoms sal kan praat, somme doen en lees.

([email protected])

Comments

Namibian Sun 2024-11-24

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!