Kleipotte uit die oshonas
Ambag van toentertyd leef voort
Catherine Sasman - “Ek is gelukkig dat ek steeds ’n bestaan kan maak - hoe karig dit ook mag wees - uit ’n ambag wat my ouma en ma geleer en aan my oorgedra het,” sê me. Lydia Amutenya oor haar tradisionele kleipotte wat sy elke dag maak en verkoop.
Amutenya woon saam met haar familie in ’n tradisionele tuiste sowat 11 km noord van Oskahati langs die MR111 op pad na Okahao op ’n lappie grond waar mahangu meestal geplant word.
Sy maak sedert 2004 haar kleipotte op die tradisionele manier en alles wat sy daarvoor benodig kom uit die omliggende omgewing.
Emmersvol grond van die sanderige oshona-vlakte ongeveer ’n kilometer van die plaasopstal word daagliks geoes en per voet na die huis gedra.
Buite die huis word die grond tot ’n poeierige digtheid gestamp en met water gemeng voordat dit in skottels van verskillende groottes gevorm word. In hierdie stadium van die proses neem die klei ’n pikswart kleur aan.
Nadat dit in die skottels gevorm is, word dit vir twee weke in ’n groot gat in die grond geplaas om uit te droog. Dié gat is per hand in die sagte sand gegrawe waar dit koel en klam bly ondanks die temperature buite. Die gat word met riete en lappe bedek om dit teen die wind en weer te beskerm.
Ná twee weke word die kleipotte uit die gat gehaal en vir ’n dag lank op ’n oop vuur gebrand wat met beesmis aan die gang gehou word. Daarna word die potte in allerhande kleure geverf voordat dit vir die mark gereed is.
Gewoonlik verkoop Amutenya haar kleipotte regs langs die hoofweg, maar sy neem dit soms ook na die opemark in Oshakati.
Sy sê sy maak elke dag van die week drie kleipotte.
“Daar is nie regtig veel geld in hierdie besigheid te maak nie, maar ek wens ek kon my kennis aan jongmense oordra. Ongelukkig is daar nie veel belangstelling nie. Wie weet, miskien sal niemand oor ’n paar jaar meer onthou hoe om die kleipotte op die tradisionele manier te maak nie,” sê sy.

Comments
Namibian Sun
No comments have been left on this article