Geskape met ’n doel

Is ’n kind met leerprobleme minder normaal as die kind met slegte maniere?
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Met die geboorte van Ivan en Levien Smit se seuntjie was dit aanvanklik ’n skok om die nuus te ontvang dat Beaux downsindroom het.

Die wêreld soos hulle daarvan gedroom het, het inmekaar getuimel.

“Kort daarna daarna het ons regtig eerlik met onsself gepraat en besef ons drome vir ons kind is alles so verganklik. Dinge wat regtig in die lewe saak maak, is dinge wat hy wel is en kan bereik,” vertel Levien.

By hom is daar meer geleer as wat sy ooit vir hom kan leer en is die saadjie vir die Avishai-trust geplant, wat opleiding en werk aan mense met spesiale behoeftes verskaf.

“Mense vergeet gou die mens is meer is as die gestremdheid. Ek het geleer om eers na die mens te kyk, sy of haar persoonlikheid te leer ken en hulle nie volgens diagnose in ’n boksie te plaas nie.”

Wat is in elk geval normaal, vra Levien.

Is ’n kind met leerprobleme minder normaal as die kind met slegte maniere? Die kind met sigprobleme minder normaal as ’n vroeggebore baba met ’n paar terugslae? Of is die kind met downsindroom “minder” kind as sy maatjie met asma?

“Elkeen van ons het ons eie soort terugslae en persepsie van normaal. Ek het geleer enigiets is moontlik en dat disability nie inability beteken nie.

“Elke mens het ’n natuurlike, Godgegewe talent en om dit te vind en te ontwikkel kan groot vrugte afwerp.”

Ivan en Levien het ná Beaux se geboorte besef ’n reusetekort aan inligting, dienste, ondersteuning en hoop vir mense met spesiale behoeftes bestaan.

“Elke kind is ’n geskenk van God en is geskape met ’n doel, beklemtoon Levien.

“Ons wil graag help om elke indivdu met ’n spesiale behoefte wat oor ons pad kom, te help ontwikkel om so goed as moontlik sy of haar Skeppingsdoel uit te leef.”

‘n Verskeidenheid mense help as trustees om die Avishai-trust te bestuur en te laat groei.

“Dit is basies niewinsgewend en ’n trust wat net mense met spesiale behoeftes help.”

Hul toekomsdroom is om deur die trust ’n sentrum te ontwikkel waar na elke behoefte van mense met spesiale behoeftes omgesien kan word. Dit sluit van inligting, verwysings na verwante instellings, dokters, terapeute, behuising, opvoedkundige hulp en ondersteuning, sowel as opleiding en werkskepping in.

“Een van ons fokuspunte tans is om nuwe gesinne te ondersteun en te bemoedig. Om seker te maak hulle skakel in by die regte instellings en kry die hulp wat hulle nodig het.”

Levien en Ivan wil ook graag ’n netwerk bou waar verenigings gerig op mense met spesiale behoeftes mekaar kan help en ondersteun om verder te groei.

“Tans is ons hooffokus ’n meer praktiese een en om te voorsien in die nood om werk te skep en opleiding te bied vir skoolverlaters van spesiale skole soos Môreson en Dagbreek.”

Werk word tans aan nege jongmense met spesiale behoeftes verskaf – die meeste leerlinge van skole vir kinders met spesiale behoeftes.

“Tans bied ons werk aan nege jongmense met spesiale behoeftes. Die meeste is studente van skole vir kinders met spesiale behoeftes wat tans met pre-beroepsgerigte opleiding besig is.

“Deel van hul opleiding sluit in om hul ure in die kombuis en teen betaling te werk. Die jongmense neem ook aan van die trust se opleidingsprogramme by Levien en Ivan se kookskool, Purple Fig, deel.

“Tans verskaf ons net werk in die kosbedryf, maar ons het planne vir uitbreiding en sal graag oor ’n breër spektrum wil bied.

“Op die oomblik lei ons nog baie op en is ons nog nie by ’n punt waar ons van die mense kan uitplaas nie. Ons sal wel ’n versadigingspunt bereik en hulle moet uitplaas.”

As deel van die opleiding kyk Levien holisties na die individu, sy of haar gesondheid, familieomstandighede, en help om doelwitte vir die toekoms te stel, sosiale vaardighede aan te leer en onder meer ’n gesonde leefstyl na te streef.

“Elke persoon is steeds ’n individu met sy of haar eie, unieke persoonlikheid, talent, drome, agtergrond en kultuur.”

Volgens Levien is daar reeds drie besighede in Windhoek wat mense met spesiale behoeftes in diens neem, maar is daar nog baie ruimte vir groei.

“Die meeste mense stel tans mense met fisieke gestremdhede aan wat bv. gehoor- of gesiggestremd is. Ek voel egter mense met kognitiewe gestremdhede moet dieselfde geleenthede kry.”

Levien beklemtoon mense met spesiale behoeftes wil ook aanvaar word en voel hulle kan ’n bydrae tot ’n huishouding of gemeenskap lewer.

“Wanneer die kinders by ons hul take kry om te verrig, is daar so ’n trotse reaksie as mens terugvoering daarop gee. Selfs hul eerste salaris is vir hulle ’n groot geleentheid en mylpaal!”

Die projek voeg meer waarde by Levien en Ivan se bestaan as wat geld ooit sal kan doen, erken sy.

“Ons ondervinding is dat mense met spesiale behoeftes sulke opregte mense is, sonder hangups oor onnodige goed. Hulle het net so ’n spesiale manier om in jou hart te kruip en ’n gewone dag in ’n buitengewone een te omskep.

“Die lag en deel wees van hul lewe, die saam groei en mylpale bereik en dit vier, die opregte harte en dankbaarheid wat jy by min ander sal vind.”

Sy erken daar bestaan ’n “hele string stigmas” wat sy al geleer het onwaar is en wat aan die publiek as verkeerd bewys moet word.

Vir nou breek sy hulle een vir een af om te wys elke kind het as gawe van God sy of haar unieke Skeppingsdoel.

([email protected]; Facebook: BlikBeker Homemade Products)

Comments

Namibian Sun 2024-11-25

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!