Fysal is almal se vriend
Van smous na multimiljoendollar-bedryf
Catherine Sasman - Fysal Fresh Food is ’n familieonderneming wat met mnr. Fysal Brenner en ’n gedugte spannetjie begin het om in die vroeë 1980’s vars vrugte en groente uit Kaapstad na die destydse Suidwes-Afrika in te voer.
Fysal, soos almal hom ken en na wie die besigheid vernoem is, het elke maand saam met sy pa en broer vrugte en groente met klein 10-ton-trokkies begin invoer.
Mnr. Ismael Davids, die hoofbestuurder van Fysal Fresh Food, wat ook in die 1980’s by die onderneming aangesluit het, vertel hulle het eers in suidelike dorpe soos Keetmanshoop en Mariental begin versprei en mettertyd elke maand verder noord begin ry.
Dit was ook nie lank nie, toe het sake uitgebrei na Swakopmund en Walvisbaai waar hulle bote in die hawe van vrugte en groente voorsien het. Weldra het hulle ook vrugte en groente aan Otjiwarongo en Tsumeb verskaf.
Destyds, vertel Ismael, het hulle net die vars produkte by hotelle en supermarkte afgelewer, nuwe bestellings geneem, en teruggery Suid-Afrika toe.
Met die grensoorlog wat destyds op die noordelike grens gewoed het, het Fysal dit nie oorweeg om op ’n meer permanente basis sy onderneming daar te vestig nie. Hy het wel in 1981 en 1982 na Oskahati gery waar hy twee weke per maand vrugte en groente onder die skadu van ’n groot boom langs die hoofpad verkoop het. Hy het intussen ook begin om die weermag van vrugte en groente te voorsien.
“Die besigheid het van toe af net groter geword,” sê Davids.
In die laat 1980’s het Fysal besluit om in Namibië te vestig en het aanvanklik voortgegaan om van onder die boom sy sake in die Noorde te bedryf. Later het hy ’n perseel van 100 vierkante meter by mnr. Samuel Ambunda gehuur.
Die Fysal-onderneming het daarna uit hierdie klein hoofkantoor in alle erns begin handeldryf. Faysal het trokke na Suid-Afrika gestuur om goedere in Kaapstad te laai wat later in Namibië herverpak is.
Hierdie vars produkte is aanvanklik aan dr. Frans Indonga se supermarkte en ’n groothandelaar verskaf wat aan die Eerste Nasionale Ontwikkelingskorporasie (Enok) behoort het. Later het Fysal ook produkte aan skole en hospitale voorsien.
“In die 1980’s was dit net ’n smous, maar van die begin van die 1990’s het die besigheid meer georganiseerd geraak,” sê Davids.
Ná onafhanklikwording het Fysal ’n Namibiese burger geword en het die onderneming toenemend uitgebrei. In 1992 het hulle na ’n groter perseel van 500m² getrek, wat later tot 1 000 m² met koelkamers uitgebrei is.
Fysal se onderneming het in 1993 ook begin om kruideniersware wat van Kaapstad ingevoer is, te verkoop en ’n minimark vir die vrugte- en groete-afdeling is opgerig.
Tussen 1994 en 1995 is ’n tak op Ongwediva geopen en in 1997 het nóg ’n tak, op Oshikango, gevolg.
“Ons was eerste hier,” sê Davids, wat by die Fysal-hoofkantoor op Oshikango is.
Op Oshikango het die onderneming in ’n klein, gehuurde kantoor begin. Toe die burgeroorlog in Angola in 1992 tot ’n einde kom, is daar begin om met Angola handel te dryf.
“Dit is waar die meeste besigheid vandaan gekom het,” sê Ismael.
Die onderneming het al groter in Namibië geword. In 2000 het hulle met twee takke op Oshakati, twee op Ondangwa en vyf op Oshikango gespog.
In 2005 het Fysal franchises aan sy vier susters en twee broers toegeken. In 2008 is kleiner takke op Outapi, Ongwadjera en Oshikuku gevestig.
Fysal het intussen die florerende noordelike eiendomsmark betree.
“Fysal se boom” wat vandag nog langs Mandume Ndemufayolaan staan, behoort nou aan hom. Die hele stuk grond van ongeveer 4 000m² rondom die boom asook ’n aangrensende stuk grond, het hy van mnre. Indonga en Lukas Malakia gekoop.
Ná 25 jaar skat Davids die maatskappy is N$50 miljoen werd. Dit blyk ’n konserwatiewe beraming te wees, as 'n mens die 30 Fysal-trokke wat die noordelike paaie platry, in ag neem. Die onderneming verskaf werk aan 250 mense.
En wat is die sleutel tot Fysal se sukses?
“Baie harde werk, toegewyding, eerlikheid en betrokkenheid by die gemeenskap,” sê Davids.
Fysal maak gereeld donasies aan plaaslike gemeenskappe. Elke jaar kry vyf van sy werknemers se kinders beurse om aan universiteite te studeer. Net op Oshakati is daar reeds agt gegradueerders wat deur Fysal geborg is. Fysal het ook vir vyf Osire-vlugtelinge se skoolopleiding betaal en die maatskappy borg ook die Sam Nujoma-stigting wat beurse verskaf.
“Fysal kyk altyd na die armste kant van die gemeenskap en hy probeer om daar te help,” sê Davids.

Comments
Namibian Sun
No comments have been left on this article