Dis rotsvas, dis ‘n geologiese paradys

Namibië se vernaamste rotsformasies
'n Versteende woud, "orrelpype", meteoriete, 'n vingerklip en 'n "plek waar reuse gespeel het" – dit is enkele van die besonderse rotsformasies wat in Namibië besigtig kan word.
Elvira Hattingh
“Namibië, met sy baie ou, komplekse geologiese geskiedenis wat op manjifieke pieke ten toon gestel word, is ’n geoloog se paradys,” skryf Lon Abbot and Terri Cook in die tydskrif GeoExPro.

Inderdaad, Namibië spog met verskeie besonderse geologiese wonders en asemrowende rotsformasies – die fokus van die week, terwyl berge vir eers uitgesluit is.

Let wel, die artikel is slegs ter inligting en die onus rus op die leser om die regte toestemming en dokumentasie te bekom om die bestemmings te besoek.



WÜSTENQUELL

Wüstenquell, met sy fassinerende rotsformasies en uitsigte, San-tekeninge, sewe fonteine en kokerbome, is ’n besonderse ervaring.

Dis ’n private natuurreservaat net buite Karibib op die rand van die Namibwoestyn, en omring met reuse-granietklipformasies, wat bestaan uit veldspaat, kwarts en glimmer. Dit is die plek in die wêreld waar die meeste van dié tipe rotsformasies per vierkante kilometer (km²) voorkom.

Terwyl dit teenaan die Namib-Naukluft Nasionale Park grens, is dit ook die naaste oornagplek aan die Welwitschia-vlaktes op pad Swakopmund toe.

Soortgelyke klipformasies is ook langs die grondpad tussen Hentiesbaai en die dorp se ou soutmyn te sien – hoewel net die oplettendste oog dit sal raaksien.



BOGENFELS

Bogenfels is ’n merkwaardige rotsboog – ongeveer 95 km suid van Lüderitz en 32 km suid van Pomona – in die Sperrgebiet van Namibië. Dit beteken dit kan slegs met amptelik begeleide toere deur toergidse vanaf Lüderitz bereik word, buiten dat dit moeilik bereikbaar is.

Bogenfels is egter ’n natuurwonder en kry sy naam van ’n Duitse woord wat “rotsboog” beteken. Die hoogste punt van die boog is 55 m bo seespieël, en dit staan met een “voet” in die Atlantiese Oseaan en die ander in die sand van die Namibwoestyn. Dit is ook die tuiste van nog een van Namibië se spookdorpe wat aanvanklik danksy die diamante in die gebied gebou is, maar ná 1950 ontruim is en in ’n spookdorp verval het.



ROOIKLIP EN GROTTO

Rooiklip Gasteplaas het drie kampplekke wat die beste beskryf kan word as ’n kampplek binne ’n hol berg, of een onder ’n reuse-rotsoorhang.

Dié rotsformasies is suidwes van Windhoek aan die voet van Gamsberg geleë. Hierdie kampplekke herinner aan The Grotto in die Namib-Naukluft Nasional Park, net ’n ent verder, omdat dit ook ’n tipe “hol berg” vorm.

Die Grotto is egter van wit klipformasies gevorm en groot genoeg om verskeie voertuie binne te parkeer. In die omgewing is daar ook talle ander indrukwekkende koppies en klipformasies te sien.



VINGERKLIP

Die Vingerklip, wat sowat 80 km suidwes van Outjo of 50 km oos van Khorixas in die noordweste van die land geleë is, troon sowat 929 m bo seespieël uit. Tog is die klip self net sowat 38 m hoog en sy basis ’n omtrek van 44 m.

Sedert die baie bekende Mukurob in 1988 omgeval het, het die Vingerklip grootliks sy plek ingeneem as die vernaamste rotsformasie van sy soort in die land.



VERSTEENDE WOUD

Die noordooste van die land huisves ook die Versteende woud – sowat 50 km wes van Khorixas.

Hierdie is ’n versameling van enorme, versteende boomstompe wat sowat 280 miljoen jaar oud is.

Wetenskaplikes het vasgestel dat die bome miljoene jare gelede in ’n rivier afgespoel het toe een van die talle ystydperke op die Gondwana-vasteland tot ’n einde gekom het.

Die bome is toe deur sand en modder bedek en vir miljoene jare onder enorme druk geplaas – soveel so dat dit versteen het. Wind, weer en water het die boomstompe eindelik weer ontbloot.



ORRELPYPE

In die Brandberg-Twyfelfontein-gebied moet jy ook nie die sogenaamde “orrelpype” misloop nie – massiewe en stokou rotsformasies wat ook op die Gondwana-vasteland gevorm is.

Soos jy vanaf Khorixas na die Brandberg ry, is daar ’n afdraaipad na die orrelpype aan die linkerkant, net voor jy die berg bereik. Volg die pad na die magiese “orrelpyp vallei” wat sowat 150 miljoen jaar gelede gevorm is.

Die Verbrande berg is ook in die omgewing te sien.



HOBA-METEORIET

Die Hoba-meteoriet, wat vernoem is na die plaas Hoba-Wes waar dit ontdek is, is net buite Grootfontein te sien. Sover bekend, is dit die grootste meteoriet wat nog in een stuk is.

Die naam “Hoba” kom van ’n Khoekhoegowab-woord wat “geskenk” beteken. As gevolg van die meteoriet se gewig van ’n geraamde 60 ton, kon dit nog nooit verskuif word van waar dit geval het nie.

Dit is sowat twee keer so groot soos die grootste fragment van óf die Cape York-meteoriet se 31 ton Ahnighito wat in Manhattan gehou word óf die Campo del Cielo se 31 ton Gancedo in Argentinië.

Die Hoba-meteorietimpak het na bewering minder as 80 000 jaar gelede plaasgevind.



ANDER

Besonderse rotstekeninge asook nog interessanter rotsformasies is by onderskeidelik Twyfelfontein en die Spitzkoppe te sien.

Verder suid kan die indrukwekkende “Speelplek van die Reuse” tussen die kokerbome, sowat 14 km noordoos van Keetmanshoop, besoek word – wat ook sowat 180 miljoen jaar gelede gevorm is.



Bronne: www.info-namibia.com, www.geoexpro.com, www.gondwana-collection.com, www.namibia-accommodation.com.

Comments

Namibian Sun 2024-07-07

No comments have been left on this article

Please login to leave a comment

Currie Cup: DHL Western Province 25 vs 30 Vodacom Blue Bulls | Toyota Cheetahs XV 82 vs 20 NovaVit Griffons | Cell C Sharks XV 25 vs 26 Fidelity ADT Lions | Suzuki Griquas 24 vs 44 Airlink Pumas Rugby World Cup U20: Australia U20 12 vs 17 Italy U20 | South Africa U20 12 vs 31 Argentina U20 | England U20 48 vs 11 Fiji U20 | France U20 26 vs 27 New Zealand U20 | Wales U20 31 vs 10 Spain U20 | Ireland U20 22 vs 16 Georgia U20 F1: Great Britain GP First:Lewis Hamilton Mercedes 01:22:27 Second:Max Verstappen Red Bull + 00:00:01.465 Third:Lando Norris McLaren + 00:00:07.547 #N/A Currency: GBP to NAD 23.23 | EUR to NAD 19.68 | CNY to NAD 2.51 | USD to NAD 18.16 | DZD to NAD 0.13 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.29 | EGP to NAD 0.37 | KES to NAD 0.14 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.73 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.33 | RUB to NAD 0.21 | INR to NAD 0.22 | USD to DZD 134.16 | USD to AOA 871.26 | USD to BWP 13.56 | USD to EGP 48 | USD to KES 127.98 | USD to NGN 1515.35 | USD to ZAR 18.23 | USD to ZMW 24.45 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index Same 0 | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1791.53 Down -0.7% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 13367.73 Up +0.54% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 28364.79 Up +0.72% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI 9380.4 Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 391.62/OZ UP +1.48% | Copper US$ 4.67/lb UP +2.36% | Zinc US$ 3 017.00/T UP 0.01% | Brent Crude Oil US$ 87.46/BBP DOWN -0.0079 | Platinum US$ 1 027.76/OZ UP +2.82% #N/A